HULP VAN DIE HULPELOSES
TEKS: PSALM 10
Om op die oop see op ‘n stuk plank rond te dryf sonder enige hulp in sig,
is vreesaanjaend. Geen mens begeer so ‘n situasie van hulpeloos- en
magteloosheid nie. Ons lewens bootjie beland dikwels in stormwaters wat dreig
om dit te laat kantel.
Die psalmis het hom in so ‘n situasie van hulpeloos- en magteloosheid
bevind. Uitgelewer aan die brutaliteit en geweld van goddelose mense, wat hom
wou vermoor en sy besittings afvat. Selfvoldane, hoogmoedige mense wat oorloop
van selfvoldaanheid en selfversekerdheid. Leuenaars en bedrieërs wat nie huiwer
om moord te pleeg om hulle doel te bereik. Goddeloses wat nie gedink het God
sal van hulle rekenskap vra of hulle tot verantwoording roep nie.
Sy grootste krisis was die feit dat dit vir hom gevoel het die goddeloses
is in beheer en God, sy enigste toevlug, is afwesig. Om daardie vrees te besweer roep
hy tot God: “Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye
van nood? (1) “Kom tog, Here! Toon U mag, o God!
Moet die hulpeloses nie vergeet nie (12)”.
Sy klaaglied eindig met ‘n lofbetuiging (getuienis) in die kultus
(erediens): U het die gesmeek van die hulpeloses
gehoor, Here. U sorg dat mense wat geen regte het nie en onderdruk word, goed behandel
word. Daarom hoef niemand bang te wees vir mags behepte mense nie. God self sal
met al die skuldiges afreken (17-18). Hy glo sy God is Koning en beheer.
Hy is Regter oor die nasies en Beskermer van die verdruktes. Dit is sy troos.
Is dit ook jou troos?
#meditasieblog #afrikaansmeditasieblog #afrikaansblog #Afrikaansemeditasie #Afrikaansinspirasie #afrikaansgeloof
Opmerkings
Plaas 'n opmerking