DIE OOGSPESIALIS
DIE OOGSPESIALIS
TEKS:
JOH. 1:43-51
Om te kan sien is ‘n wonderlik voorreg. Sowat 253 miljoen mense in die
wêreld is blind. Mediese tegnologie het die behandeling van gesig probleme gerevolusioneer.
Om te kan sien, beteken egter nie dat jy werklik kan sien nie. Meeste mense
meen hulle kan goed sien as alles rondom hulle
duidelik sigbaar en onderskeibaar is. Natanael het ook gedink hy kan
sien. Daarom dat hy vir Filippus gesê het: “Kan daar
uit Nasaret iets goeds kom?” (46). Ja, hy kon Filippus sien en alles
rondom hom, maar dit is sover dit gestrek het. Hy kon eers werklik sien na sy
ontmoeting met Jesus. Daarom dat hy bely het: “Rabbi, U
is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” (49).
In Johannes evangelie is “sien” gelyk aan “glo”. Natanael se opinie van
Jesus het totaal verander nadat die Oogspesialis hom van sy geestelike
blindheid verlos het. Toe het hy besef dat Jesus die Seun van God is…die
verwagte Messias.
Geestelik blindes sien nie verder as wat voorhande is nie. Hulle herken nie
God en sy Woord nie: Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die
dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie
verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word (1 Kor. 2:14).
Die Oogspesialis (JC) het gekom “sodat dié wat nie sien nie, kan sien…” (Joh. 9:39).
Ware sig lê daarin dat jy kan verder sien as dit wat voorhande is (vgl. Hebr.
11:1).
Opmerkings
Plaas 'n opmerking