INSLUITING
Jes. 56:1-8
Uitsluiting van sekere mense en groepe het 'n eeue oue geskiedenis. Selfs kerklik. Soort soek soort. Die rykes meng nie met die armes nie en anders om. Taal en kultuur verskille het altyd uitsluiting tot gevolg. Suid-Afrika het 'n lang geskiedenis daarvan.
Eunugs of ontmandes het onder die getel wat uitgesluit is: Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie (Deut. 23:1). ’n Eunug is ’n persoon (gewoonlik ’n man) waarvan die testis, en soms ook die penis en skrotum, vernietig of verwyder is. Dit lei tot steriliteit en tot onderskeie grade van impotensie en verlies aan geslagsdrang. Ontmanning was baie vernederend. Die gemeenskap het hulle verwerp.
In Jes. 56:4 sê die Here:
Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure 'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense 'n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Dit sou die nuwe kerklike praktyk na die ballingskap in Babel wees. Die tyd van uitsluiting was verby. God sluit niemand uit nie. Sy volk (kerk) bestaan uit alle volke en tale sonder aansien van persoon.
Christus se bloed is getap om mense in te sluit en deel van sy kerk (familie) te maak. Daarom bestaan daar nie so iets soos uitsluiting onder gelowiges nie.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking