LAM VAN GOD




LAM VAN GOD

Joh. 1:29-34

'n Mooi Karoo lam is sappig en begeerlik, maar sy leeftyd is kort. Met geboorte staan hy byna voor die slagpale. Bestem om geslag, verkoop en geëet te word. Lamtjops op die kole is smaaklik, maar die voedingswaarde is tydelik.

In Bybelse tyd is lammers week na week geoffer as versoening vir die volk se sonde. God het die offerlam voorsien om in Isak se plek geoffer te word. As Jesus by die Jordaan rivier aankom waar Johannes die Doper besig was om te doop, roep hy uit: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (29). Die Lam het net 33 jaar op aarde geleef. Gebore om vroeg te sterwe vir die sonde van die mensdom. Om, anders as lamsvleis, ewige spyse te word. Spyse wat ware lewe gee, ewige lewe. Lewe wat nooit ophou nie. Vergifnis en versoening. Lewe wat die dood nie kan verorber nie.

Die verwydering tussen God en mens deur die sondeval kan nie deur 'n Karoo lam as offer weg geneem word nie. God moes die Lam verskaf wat die sondes van die mensdom wegneem. Sy enigste Lam. Sy kosbaarste.

Jesus Christus het gesterwe om die mensdom met God te versoen. Ja, sodat ek en jy Sy kinders en erfgename kon word. Deur Sy offer het ons ewige lewe ontvang.

Die Lam se eie mense het hom verwerp en aan ‘n kruishout vermoor. Wie hierdie Lam verwerp, kies die ewige dood. 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

DIE UITNODIGING

GEESTELIKE BLINDHEID