BLINDE SIEN

 



BLINDE SIEN

JOHANNES 9

Gestel jy woon in ou Jerusalem en jy is blind. Daar is niemand om jou te help nie. Jou voel-voel kierie is jou gids. Daarmee vind jy jou weg deur die strate elke dag. Tot waar jy sit en bedel. En tot waar jy woon. 
Joh 9 vertel die verhaal van so ‘n blinde bedelaar. Hy is van geboorte af blind. Almal wonder watter sonde het sy sig probleem veroorsaak. Sy leefwêreld is beperk tot sy gehoor en die geluide om hom. Hy is afhanklik van sy medemens se gunste en gawes. Op ‘n sekere sabbatdag kom Jesus en sy dissipels op hom af. Soos die Fariseërs sien die dissipels nie die mens in nood raak nie, maar soek die rede vir sy blindheid. Jesus sien egter die blinde bedelaar in sy nood aan. Daarom ontferm Hy hom oor hom. Hy maak ‘n bietjie klei aan en smeer dit aan die blinde man se oë. Toe beveel Jesus hom om sy oë in die Siloambad te gaan was. Voel-voel vind hy sy weg na die bad en wonder wie is die Man wat klei aan sy oë gesmeer het. By die bad buk hy en was die klei van sy oë af. Ewe skielik verdring die helder lig die nag in sy lewe! Hy kan sien.  Die ewige Lig het in sy lewe deurgebreek! Jesus, die Lig van die wêreld, het sy klein wêreldjie 180 grade gedraai. Hy sien nie net die mense en omgewing om hom nie, maar ook vir Jesus. En bely Sy naam.
Die wonder is egter dat die blinde man twee keer die lig sien.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld. Die Een wat gekom het dat ons God in al sy genade kan sien en liefhê. Wie Hom herken besef sy sonde en ellend, bely dit en volg Hom.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

DIE UITNODIGING

GEESTELIKE BLINDHEID