DIE GOEIE HERDER
TEKS: JOH. 10:1-12
Ons beleef baie onsekere tye in Suid-Afrika. In miljoene harte leef die vraag: Wat lê vir ons voor? ’n Totale “blackout” en chaos? Is daar nog ‘n toekoms vir ons in die land? Gaan die wiele afval? Die diepste vraag is: Gaan ons versorg wees?
Die Israeliete het ook hulle onsekere tye, veral in die ballingskap, beleef. In hul onsekere tye het hulle meestal hulle troos in die herders beeld vir God gevind. Dié beeld verwys na God se nabyheid, sorg en beskerming. Sy sorg het destyds meestal oor die materiële en die fisiese gegaan. Die ete, drinke en veiligheid.
God het hom in Jesus Christus as die goeie Herder openbaar: Ek is die goeie herder (11). Die Herder sorg nie net vir die tydelike…die aardse groen weivelde en die water nie, maar ook die ewige. Sy gebreekte liggaam het die ewige spyse en brood op Golgota geword. Soos die herder met hulle liggame hul skape teen ongediertes en diewe beskerm het, so het Sy bloed, aan die vloekhout, die oordeel van God van die mensdom se sonde afgeweer en nuwe lewe verskaf. Ewige lewe. Wie die Herder volg, geniet lewe in oorvloed, vergifnis, vrede, liefde, dankbaarheid, vergenoegdheid en geloof. Die Herder lei elke dag Hy sy kinders na “groen weivelde” van lig en lewe uit. Die dood kan hulle nie meer doodmaak, want die Herder het die dood oorwin (gedood). In Sy hande is gelowiges veilig. Niemand kan hulle uit Sy hand ruk nie.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking